Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Die ANC het goed verstaan watse bron van fondse Escom is... maar steeds kan Escom, per definisie, nie bankrot wees nie. Solank as wat die belastingbetaler nog kan bekostig om te k...uh... ag, julle ken tog almal die wet van Transvaal, ons sal wel betaal. As ons nou toegang gehad het tot die boeke, ‘n maandelikse ballansstaat miskien, sou ongeërgde geldrondgooiery gou stopgesit word. Net bietjie openbare boekhouding...

Daar is tog wel mense in vreeslike duur dasse met glinsterende glimlagte en baie meer ‘geloofwaardigheid’ as ek, wat net nie kan ophou kla oor Escom nie. Terwyl almal saamstem ‘korrupsie’ is ‘n probleem, is beter boekhouding nie die oplossing nie. Nee, wat die blink menere wil hê, is volkome privatisering. Elke probleem in die wêreld kan opgelos word deur privatisering. Elke probleem, behalwe die korrupsie, stygende kostes, belastingtoegewings, subsidies en gewaarborgde winste (uit jou belastinggeld) aan buitelandse bankgiere waarmee privatisering noodwendig saamgaan. Ons sal nie nou hier ingaan op die absurditeite van die privatiseringsveldtog nie, ons praat nou net van Escom en die las wat ons land van elekrisiteit beroof. Ons is hier om ‘n bietjie eenvoudige waarheid te praat oor daai donker ure wat my plaaslike Spar se hoender laat gesels met die neus.

Gepraat van neus, kom ons volg die spoor van Escom se skielike verderf sowat tien jaar terug. Elke mens in hierdie land wat weet hoe ‘n karbattery werk, het gesmeek dat ons regering nie die kontrak met COEGA sal aanvaar nie. Daar gaan teken die dom bliks...Ons regering het ‘n baie gevaarlike kontrak geteken met ‘n aluminium smeltery, teen goeie advies, dalk met ‘n stewige skep korrupsie. As ons die kontrak kan beetkry, kan ons almal kyk of ons ietsie tekort sien daar, enigiets om te kanselleer, enigiets! U sien, geagte leser, ons Heilige Ekonome, nie die ANC nie, maar die internasionale privaatmaatskappy wat die regering bystaan deur advies en bestuursdienste aangaande ons land se ekonomie, daai buitelanders met privaat winsbejag? Hulle het daai kontrak geteken, deur ons ministers en hul trawante se handjies vas te hou, en rond te stoot op die blad met valse advies. Kom ons maak die eenvoedigste sommetjie, en kyk self hoe slim ons gehuurde hulp regtig is.

Die plan vra vir 7% van Suid Afrika se opwekkingsvermoëns. Net sewe persent. Van totale vermoë. Nou kyk, mens kan nie die regering blameer vir alles nie. Enige ou wat met masjiene werk, kan jou vertel, 100% effektiewe werk is onmoontlik. ‘n Goeie installasie met groot masjiene, kan trots wees op 80% effektiwiteit. As u nog nooit binne ‘n kragstasie was nie, leser, kan ek nie verduidelik nie. Dink aan die grootste mouter wat in jou huis kan pas, dan maak jy hom veertig keer groter. Dan sit jy tien, twintig van die goed langs mekaar. Dan bou jy twintig sulke stasies en verbind dit alles met drade so dik soos jou arm. Die komperstelsel is so groot, Escom het hulle eie internet. Soos in, hulle het ‘n hele aparte stelsel waar jy nie eens kan intap nie, en dit hardloop op optiese vesels. Escom is een fantastiese groot masjien. Die onderhoudskedule alleen is meer kompleks as party klein landjies se hele regering. 80% is goed.

Maar, gepraat van onderhoudskedules, daai twintig motors lanks mekaar? Tenminste een sal onder  inspeksie wees, hopelik. Om die waarheid te sê, party staan eintlik net daar om oor te neem as ‘n lopende een breek of sommer net beurt kry vir inspeksie. Kom ons sê 80% van daai motors loop, want ons het net die beste mense wat sake bestuur. Daar is die wat reken 40% is nader aan die waarheid, maar ek is ‘n patriot, en my regering is nie ‘n klomp buitelandse ‘sakemanne’ nie. Ek wil graag glo dat tenminste 80% van die kragstasies in my land loop, teen 80% volle kapasiteit, teen 80% effektiwiteit. Ek weier om die 40 tot 60 persent te gebruik wat die kenners vir my vertel.

Tagtig persent van tagtig persent van tagtig persent is...um. 0,8 x0,8 x0,8 = so om en by umm 50%. Dit beteken dat, uit die moontlike soveel GigaWatt wat Escom kan verskaf, is daar net die helfte beskikbaar. Nou gebruik COEGA skielik nie meer 7% van Escom se krag nie, hulle gebruik 14%. Dit is een sewende van ons totale kragtoevoer! Ons het nege provinsies, en een fabriek gebruik meer elektrisiteit as drie van ons stilste provinsies? Dit moet seker een helse groot fabriek wees? Ja, die grootste aluminiumsmeltery in die wêreld! Is jy nie trots op ons groeiende ekonomie nie!

So ‘n yslike fabriek moet darem seker vreeslik baie bydra aan ons ‘groeiende ekonomie;? Nee, wat. Daar is nou so baie mense in die wêrled wat rondloop en metaal steel, ek bedoel herwin, vir ‘n bietjie inkomste, dat byna niemand die laaste tien jaar sogenaamde “virgin metal” aangevra het nie. Plus, die elektrisiteitsprys wat hulle beding het met ons regering, is vreeslik, uh, “mededingend”. In ander woorde, hulle betaal sente teen die rand wat ek en jy betaal. Daarby ontvang hulle afslae wat verband hou met die markprys van aluminium (amper niks, ons hersmelt net ou lere en cokeblikke) en om alles te kroon, is hulle ongelukkig oor die diens, so hulle betaal nie hulle rekening nie. Van daardie laaste hoor ons maar by ander bronne, moet ons nie aanhaal nie.

U het seker bietjie simpatie, so ‘n belangrike fabriek se mense raak seker ongelukkig as die krag afgaan? Derduisende mense sonder kompers and internet en die koffiemasjiene is ook dood. Nah! Die plek is so modern, die buitelandse bestuurspan benodig net iets soos 250 deeltydse werkers, DEELTYDSE werkers. Van die beloofte werksverskaffing gee die grootste aluminiumfabriek in op aarde ons minder werk as ‘n rondgaande sirkus. Vir daai bietjie geld, kon ons net sowel die ding nege maande ‘n jaar afsit.

Mens kan glad nie ‘n smeltery se krag afsit nie. Dit neem weke om daardie groot oonde skoon te maak, vuurwarm, terwyl die metaal nog loperig is, en dan moet jy die ding versigtig afkoel, stadig stadig, anders kraak die mure en so. Om hom weer aan die gang te kry, is weer miljoene joules energie, en baie dae van versigtig opwarm, anders verbrokkel die struktuur. Nee, COEGA kry geen kragonderbrekings nie, ons kan nie die skadevergoeding bekostig nie, daarom moet ek en jy in die donker sit en TV kyk op ons selfone. Coega sal aanhou loop, al sit ons die hele land se ligte af.

Of gaan jy die een wees wat die Heilige Belegger bel en die arme ding se vertroue knak?