Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Tamaties kom vanaf Mexico, met ‘n klimaat wat plek-plek ooreenstem met die klimaat in dele van yslike Ethiopië. Maar dit was in die ou dae, nou kom tamaties uit ‘n laboratorium in Amerika, Israel, Engeland... die hele Unie van Sionistiese Sowjets. Okay, die tamaties kom nie van daar af nie, net die saad. Ja, ja, die laboratorium doen net die genetiese manipulasie op tamaties, en die saad daarvan word versprei. Oraait, die saad word gekweek op spesiale plase, waar niemand kan inmeng, kla of minderwaardige stuifmeel aandra nie. So, die laboratorium vervaardig ‘n splinternuwe ding wat nes ‘n tamatie lyk, hulle kweek die ding aan op spesiale proefplase, vanwaar die saad dan versprei word deur die hele wêreld. Dit is hoe ek en jy ook net in ‘n plaaslike winkel kan instap, en die mees gevorderde tamatiesaad koop en plant, nes ‘n regte boer.

Om dinge makliker te maak vir ons ouens wat eintlik niks weet van boer nie, is daardie spesiale saad wat spesiaal ontwikkel is in spesiale plekke, baie spesiaal. Die goed groei omtrent enige plek waar jy genoeg kunsmis en water en gif gooi, die tamaties is almal min of meer ewe groot, en almal is groter as enigiets wat nie uit spesiale saad groei nie. Ja, die smaak is dikwels effe min, maar die ding kan weke lank rondlê sonder vrot. Ons moet ook darem net onthou, daai tamatie se saad is steriel, as jy volgende seisoen weer tamaties wil groei, gaan jy winkel toe, en koop nuwe saad. Saad wat op spesiale plekke groei, ontwikkel in spesiale laboratoriums, en uiteindelik betstem vir die mees spesiale spesie op aarde: die Gesofistikeerde Verbruiker.

Die probleem met spesiale tamaties is dat hulle spesiale plekke nodig het om te groei. Die probleem met gesofistikeerde verbruikers, is dat hulle almal op een hoop bly, myle en myle vanaf die naaste spesiale plaas. As jy tamaties gaan begin rondvlieg, doen ‘n behoorlike ding daarvan, en vlieg almal. Europa eet vreeslik baie Ethiopiese tamaties, Ghaniese koffie, Suid Afrikaanse lemoene en so aan. Ethiopië groei baie tonne baie spesiale tamaties. Maar voor ons aangaan met die tamaties, wil ek u graag vertel van aartappels:

Spesifiek moet ons praat oor die Groot Aartappelhongersnood in Ierland. Aartappels kom van Suid Amerika se kant af, baie son en so. Toe Columbus en sy trawante in Europa aankom met aartappels, was die mense gaande, en Gesofistikeerde Verbruikers het alles opgekoop wat hulle kon vind. Klink dit soos ‘n besigheidsplan? Die Ingelse, stewig aan bewind oor Ierland, beveel toe die boere, wat almal huur betaal en oeste moet deel met die kasteel, om aartappels te groei.

Die van julle wat Ingelsmanne ken, sal verstaan dat hulle nie die Iere ‘n guns gevra het nie, die grond behoort aan die Lord Droll, en Lord Droll regeer soos ‘n konintjie oor sy bywoners. Toe die Iere vertel is om aartappels te plant, kon hulle net aartappels plant, en niks anders nie. Maar dit was oukei, die pryse in Europa het dit moeite werd gemaak. Toe kom die swamme...

In Suid Amerika staan aartappels nie in die mistige heidevelde soos Ierland nie, en dus is aartappels nogal vatbaar vir swaminfeksies. Hier kry ons byvoorbeeld aartappelroes, die Iere noem daai toe “potato blight”. Die hele oes in sy maai, en daar is bokkerol om te eet nie. Ek gaan nie nou oplees hoeveel mense het gevrek van honger nie, maar dit is een van die baie swart vlekke op die Ingelse se rekord. Terwyl die rykes beet en koring kon invoer vanaf die res van Europa, moes die armes maar staan en kyk hoe hulle plase vol vrot aartappelplantjies kwyn en vrek, nes die Ierse kindertjies, sonder kos of heimwee, op die aartappellande gestaan het en vrek van honger.

Op dieselfde trant as die Iere se aartappelhongersnood, moet ons baie ander op die lys plaas: Hele stamme wat kreupel kinders verwek en vroeg doodgaan aan kanker, omdat hulle landskap vol piesangs staan. Die hoeveelheid gif wat piesangs kry net om te oorleef in daai spesiale plekke is skrikwekkend, en die plaaslike bevolkings rondom piesangplase is altyd vergiftig. Swaziland, ons bure; is daar vrugbaarder grond in Suider Afrika? Hulle werk in jou tuin, want die plek staan vol suikerriet, en elke jaar is daar meer riet en minder winste. Dieselfde geld vir oliepalms in die Filipyne, sjokolade in Kenya en soja in Guatamala. Die aardbol vol, word kleinboere en tradisionele gemeenskappe tot selfmoord gedryf, vergiftig en verarm, alles in die naam van “voedselsekuriteit”.

Die grootste probleem met hierdie spesiale plase waar hulle spesiale gewasse groei waarvan spesiale kos gemaak word, is dat almal onder kontrak is van ‘n baie klein groepie internasionale maatskappye. Gaan haal jou tien gunsteling handelsnaam-produkte uit jou kombuiskas, wed jou daar is nie meer as drie moedermaatskappye betrokke nie. Groot maatskappye soos daardie teken nie kontrakte wat hulle blootstel aan enige vorm van weerstand of twis nie, jy doen wat hulle sê, soos hulle sê, of jy verloor alles. Alles; boere is nou die beroep wat meeste selfmoord pleeg. Daai kontrakte is een van die politieke wapens waarmee die mensdom uitgedun word tot ‘n halwe biljoen of minder. Hier lê dan ook die bestaansrede van hierdie skrewe:

Wanneer ‘n hele gemeenskap se boere hulself oorgee aan die droom van internasionale kontrakteurs, is dit ‘n hele landskap beset deur een korporatiewe sakeplan, met een soort gewas, tien teen een. Wat gebeur wanneer die weer draai? As China ophou soja koop by Amerikaanse maatskappye, wat gebeur met die boere wat duisende hektaar Amasone-woud oopgebrand het om die gemors te plant, op kontrak, hulle het geen ander keuse, maar hulle moet berus op die ‘markprys’, wat altyd minder is as laasjaar, in regte geld gemeet. Gaan mark toe en kyk of die prys ooit vir jou en my verminder?

En dit, liewe geagte gewaardeerde en skaars leser van my tirade, is die storie van Ethiopië. Hulle is nie dood aan droogte nie, die tamaties het aanhou vloei, na Europa en die midde-ooste, waar Gesofistikeerde Verbruikers goeie geld betaal het. Die Ethiopiërs kon kos vir hulself gegroei het, maar aikôna, nee, hulle is onder kontrak, so die hongeres moes maar gaan sit en vlieë jaag in die woestyn. Jy neuk nie rond op ‘n kommersiële plaas nie, dis mos ‘n onderneming van Nasionale Belang. Dis so goed jy laat wei jou vee op ‘n myn se grond, drie myl bokant hulle tonnels vol goud. Gaan probeer...?

Die Ierse Patatvrek het nooit opgehou nie, dit het net uitgebrei, nuwe ‘landbouprodukte’ geskaak, en nog meer gemeenskappe ontneem van hul vaderland. Daai imigrante op Amerika se grens is almal daar omdat hulle niks oor het in hul eie land nie, want alhoewel die korporatiewe gewasse steeds sterk groei, vereis “voedselsekuriteit” dat alles veilig agter slot en grendel en magasyne vol koëls bewaar word, weg van die honger hordes wat eens op daardie grond staatgemaak het.

En net om tred te hou met gebeure: Die hele wêreld moet nou opdok, want al die varkies in China het verkoue gevang, al die besies in Amerika het versuip, en nou kan die Yanks nie saai nie, want dit reën te veel... sal ons dit die Vreeslike Varkvrektes van 2019/2020 doop, of sommer die Klimaatsveranderingshongersnood van nog-altyd-af? Of sal ons dit die Groot Gemors van Geneties-Gemodifiseerde Gruwel-Gewasse en Gepatenteerde Groei-net-eenkeer Grane noem?

Die span hier by Greenpets loop maar rond en smeek los saadjies van enigiemand wat nog wilde groente groei. Die probleem is net, die wat ernstig is oor hul tuine, groei almal net die beste gemors vanaf Israel en Amerika. Die wat nog Oupa se goete groei, doen dit meestal onwetend, die goed kom maar op daar onder in die tuin en die mossies vreet dit op. Dit is natuurlik die belangrikste verskil tussen Monsanto se giftige gemors, en die krom tamatietjies wat Jonas daar by sy kaya plant: Bill Gates se gemors kom nooit jaar-na-jaar net wild op en groei bossies nie. Dit lyk altyd pragtig en verkoopbaar, maar net as jy hom spesiaal plant, met spesiale chemikalië en allerhande kunsmis vol gif, and dan spuit jy hom gereeld vol gif.

Want dis spesiale saad!